grootoog deur die wêreld…

Entries from February 2009

ipod farewell

23 February 2009 · 4 Kommentaar

Dit was die 17e Desember 2008 en die eerste been van my rit huis toe het pas begin. Dit was ‘n bittersoet totsiens in Parys, waar Pieka sy vlug later die dag sou vang. Die einde van ‘n era, en ons het dit geweet.

Ek was teen hierdie tyd ‘n pro met die treine. My ipod het Tree63 gekies en ek het dit van random afgehaal sodat dit op Tree63 bly. “All of your days I’m walking home with you…”

Ek het my oe toegemaak en probeer tot rus kom, maar die trane was maar vlak. Hoe nader ons aan Duitsland gekom het, hoe kaler het die wereld geword. En hoe meer sneeu het God soos make-up op die yl landskap gesprinkel. Oorkant my het ‘n jong vrou gesit met die pragtigste twee donkerkop dogtertjies. Sy’t probeer om nie te wys dat sy kan sien hoe ek huil nie. Ek het ‘n prentjie in my dagboek geteken van die telefoonpale waar verby ons ry – swerms en swerms voels vir wie die Here so rg, selfs in hierdie ysige koue. Daai versie het my vir die eerste keer regtig getref.

Ek het gedink oor die maand wat verby is. Nadia-hulle in Belfort, dapper en opgewonde: die byna underground kerkgemeenskap. Maureen, die pastoor se vrou met die plooie en die vrede. Dit is maklik om saam met hulle te glo en te sien dat die Heilige Gees aan die beweeg is in Frankryk. En die Van Reenens – my en Irie se spring-spring deur die diepe sneeu; tannie Windred se ongeergde wysheid oor my wroeginge. En hy. Ek het my hart toegelaat om uit te freak in my.

‘n Spierwit koppie bo-op ‘n skaterende mensie. Sy was seker nie vier jaar oud nie en sy’t vol selfvertroue op en af gewaggel in die paadjie. Waggel-trippel tot teen die glasdeur en ek maak dit byna outomaties vir haar oop. Cara! Dis ‘n driejarige, en jy help haar weg-waggel van haar familie af, in die volgende treinkompartement in? Ek het maar opgestaan en haar terugbegelei in haar ouers se rigting. Sy’t my vertrou – sommer lag-lag.

Die ure het verbygegaan. Ek en die vrou oorkant my het in ons ewe gebroke Frans gesels oor haar twee dogtertjies, haar onlangse egskeiding, en haar toekoms vorentoe. En myne. Toemaar wat, het sy gese, jy’s nog jonk. Dit was duidelik dat sy glo haar romanse is vir ewig iets van die verlede, so beeldskoon soos sy is op dertig.

Net voor een van die Duitse stede het die blonde kind se gesin opgestaan en solank by die deur kom wag. Die blonde kind het maats gemaak met die donkerkopdogtertjies. Watter taal praat sy? het ek haar ma gevra. Eintlik drie tale, het haar ma verduidelik – Frans, Engels en Duits. So ‘n klein dogtertjie? Ja, regtig. Sy’t vertel hoedat hierdie bondeltjie winterjas selfs al met Duitse familievriende Duits begin praat en met Engelse familievriende weet om in Engels te gesels. En hoedat sy, by die aankoop van ‘n nuwe rokkie, daarop aangedring het dat dit nie ‘n Duitse jurk is nie maar ‘n Franse robe.

Dit was een te veel vir my. Nog ‘n Europa-kindjie. Wat is die kans dat sy ware lewe vind; ware vreugde beleef? Skattig. Godloos. Slim antwoorde op alles behalwe die doel van haar lewe. Ek het my gesig in my Philip Yancey boek weggesteek.

Net toe die trein stop, let haar ma skielik die boek op. “That’s a great book,” se sy. Ek’s verstom. “You know this book?” “Yes, it’s amazing, I read it a couple of years ago.”

Ek voel nou stupid hieroor, maar die volgende ding wat ek gese het, was “There are Christians left in Europe?”

Sy’t gelag, maar nie ongemaklik nie. Goedig. “Oh yes!”

Die blou ogies was besig om die donkerkoppies se speelgoed te verken. “… Then she’s in good hands.”

Haar ma het geglimlag. “Yes she is.”

En toe is hulle weg.

copy-of-desember-039

Kategorië Frankryk 2008
Tagged: , ,

shoprite

8 February 2009 · Lewer Kommentaar

Dis amper sesuur. Ek huiwer bietjie; vra die sekuriteitswag hoe laat Shoprite toemaak. Oor 5 minute, se hy, en ek besluit okay. Ek sal vinnig shop. Wat gaan hulle doen – my uitskop? Dis mos… ondenkbaar. Of hoe.

Mens het mos maar jou basics nodig. Brood, melk, hmmm die cheap chocolate in die reuse boks in die gangetjie. Een van die Cokes wat hulle – schneaky! – by die tellers in yskaste hou. Ilse, vriendin van my, staan twee plekke voor my in die ry en ons gesels heerlik oor die arme tannie in die middel se kop totdat Ilse voor in die ry is, betaal, vir my waai en wegstap. Ai. As ek maar geweet het.

Ek is die tweede laaste in my ry en die sekuriteitswagte het solank al die deure behalwe ‘n laaste een gesluit. Dis 18h20 en ek neem my weer voor om tog ‘n ander supermark te kies wanneer ek ooit haastig is. Uiteindelik voor gekom, haal ek my twee winkelsakkies baie trots uit. Ek vergeet hulle altyd! Help sommer solank in die sakkies pak. Hmmm die sjokolade. Kom ons haal hom uit; delayed gratification was nog nooit my ding nie! Ek vat solank ‘n hap terwyl die dame die laaste goed swipe.

Dis ‘n ou gewoonte om goed in die winkel al te begin gebruik – van die klere wat my ma my kleintyd sommer laat aanhou het as ons besluit het om hulle te koop, tot die koeldrank wat sy sommer vinnig by ‘n personeellid verduidelik ons netnou voor sal betaal. Sommige mense sou nooit so iets doen nie, maar mamma Nelleke… wel… sy het immers met haar voete op haar dominee-boyfriend se pastorie-sitkamerbanke gesit. (Hy het vinnig besluit dit sal nie deug nie en vir hom iemand meer nervous gevind om sy lewe mee te deel. Sy verlies!)

Tyd om te betaal.

Betaal.

En toe besef ek ek het geen beursie tussen die plastieksakkies gesien nie.

Ek dink dis die moeite werd om maar jou geld te onthou en jou plastieksakkies tuis te los. Maak nie saak hoe vriendelik die teller vir jou vra, “do you live farrr?” nie – dis nooit lekker as ‘n supervisor so vir ‘n mens kyk nie. Sy’t nie veel woorde gehad nie.

Toe ek eers die sjokolodae onder haar aandag bring… wel… toe het sy nie meer woorde nie.

Kategorië Life, the universe and everything