grootoog deur die wêreld…

aanneem

26 Junie 2009 · 6 Kommentaar

Twee kere terug se post, “Bella en ander kinders”, was eintlik ‘n inleiding tot hierdie blog.

Ek dink al vir ‘n geruime tyd daaraan om eendag saam met my man kinders aan te neem. Ek wil ongelooflik graag kinders van my eie hê. Maar ek kan nie justify om nog kinders in ‘n wêreld te bring waar soveel duisende alreeds weeskinders is, of effektiewelik weeskinders is nie.

Omgewingsbewustes praat van krisisvlak-oorbevolking. Ek het ‘n taak gedoen oor die impak van Miv/Vigs op Suid-Afrika. Ek het die Instituut vir Sekuriteitstudies se navorsing gesien oor hoe Vigs-weeskinders waarskynlik ‘n reuse impak gaan hê op die misdaadsyfer in ons land (om nie te praat van ander probleme nie). Ek het gedink aan alles wat ek het om te gee. En ek kan my nie bring om dit nie te deel met ten minste een of twee kinders wat andersins ‘n bitter baie moeiliker lewe sou hê nie. Kom ek praat in enkelvoud vir nou.

Hierdie kind sou natuurlik waarskynlik nie wit wees nie – wit babas in Suid-Afrika is in aanvraag; my tannie en haar man het amper te oud geword om te kwalifiseer voordat hulle geseën is met ‘n pragtige aanneemdogtertjie. Ek het geen behoefte om ‘n kind aan te neem wat ‘n liefdevolle welvarende ouerhuis elders sal kry nie.

Ek dink dus baie oor hoe moeilik dit sou wees vir haar om groot te word in ‘n oorwegend wit gemeenskap. Sal sommige kinders weier om met haar maats te wees? Sal ek my kultuur aan haar oordra? Hoe sou sy voel oor die Afrikaners, met wie ek altyd ‘n mate van affiniteit sal hê? As sy nie babatyd al by my en my man kom woon nie, hoe gemaak met dit wat sy reeds beleef het - haar vorige familie, kultuur en taal?

Maar selfs te midde van die baie vraagstukke, dring die situasie in ons land my om dit te oorweeg. Ek glo in die sosiale waarde van die gesonde gemeenskappe waarin ek my bevind en waarskynlik sal aanhou bevind. Ek voel gedring om, as ons dan twee van ons eie kinders wil hê, ten minste nog twee aan te neem en die seën wyer as ons bloedfamilie te versprei op die mees persoonlike manier wat ons kan.

Ek glo ook nie ek’s alleen nie. Ek en Annali het dit al heelwat bespreek en ek het sulke rumours gehoor onder ‘n paar Christene na wie ek opkyk. Dalk kan ek en my man, en ander paartjies wat sterk hieroor voel, saam die moontlikhede verken. Mekaar ondersteun as ons besluit om dit te doen; ‘n organisasie nader of ‘n organisasie stig om ons te ondersteun in terme van hulpbronne en voorligting.

As ons met al die seën in die wêreld dit nie doen nie, wie sal? Dit sal moeilik wees, maar dit wat goed is, is dikwels moeilik.

Kategorië Life, the universe and everything

6 responses so far ↓

Lewer Kommentaar