grootoog deur die wêreld…

Entries tagged as ‘stellenbosch’

stellenbosch brand

3 Augustus 2009 · 3 Kommentaar

.

my tekkies omhels minder strak as jy.

.

ek onthou jou soos vonke:

jou lippe soos dofrooi rook

jou kuite sterk soos myne brandend

stamp stamp teen die verwarde aarde.

.

die sirkel voltooi haar te skielik.

ek snak; jou soene smeul op my tong.

.

Kategorië Life, the universe and everything
Tagged: , ,

aansoekseisoen

8 Junie 2009 · 2 Kommentaar

Dis aansoekseisoen. Ek het pas vir die Mandela-Rhodesbeurs en die Leef-en-Leerprogram aansoek gedoen en dit het my gedwing om bietjie te soul search.

Dis maar vrek moeilik om te besluit wat om te se en wat om uit te los. Op die ou end kan ek maar net hoop dat ek myself weergee en dat hulle ‘n ingeligte besluit vir of teen my maak. As ‘n aansoek akkurate weerspieeling van myself is, en my nie ‘n plek in die Beurs of die huise kry nie, moet ek my daarby berus. Maar wat as ek net ‘n slegte opstel skryf? Wat as ek nie dit beklemtoon waarvoor hulle kyk nie, al is dit deel van my?

Hier is die essay wat ek vir Leef en Leer geskryf het.

Almal ken die storie van die man wat op die strand geloop het en sover hy loop, uitgespoelde seesterretjies teruggegooi het in die water in. Toe iemand hom daarop let dat hy tog nooit al die duisende seesterre kan red nie, het hy geantwoord: “Maar vir hierdie een het ek ‘n verskil gemaak.”

Ek stem saam dat ‘n mens soms vir ‘n individu iets onsaglik waardevol kan doen, en dat dit dalk op sigself die moeite werd is. Maar ek wil graag die metafoor van die seesterretjies ‘n bietjie aanpas. Ek hoop ons kan aanhou worstel met hoe om die branders te keer – die branders van armoede, verdrukking en geweld, wat duisende mense soos seesterre uitspoel. Ons verken in die regering, in gemeenskapsprojekte, in ons studies, die sandpaadjies na daardie oplossings. Maar sover soos ons stap, gooi ons individuele seesterre terug. Ek glo dus die wêreld moet beide op sisteemvlak en op interpersoonlike vlak verander… en ek hoop ek kan ‘n bietjie van albei doen.

Ek is ‘n politieke wetenskapstudent met ‘n passie vir Suid-Afrika en Afrika. Ek glo nie eintlik in vyfjaarplanne nie – die lewe verander te vinnig en te veel en ek hou daarvan so. Net op een ding kan ek reken: ek as mens sal aanhou groei en daarom sal ek or 5 jaar meer ingelig en betrokke in die problematiek van my land sal wees as ooit. Of ek binne of buite die land sal wees waarvoor ek so lief is, weet ek nog nie! Ek hoop eintlik ek sal ten minste ‘n bietjie internasionale ervaring opgedoen hê teen daardie tyd. Dalk is ek oor vyf jaar besig om my Frankofone Afrika-droom te verwesenlik.

Ek weet wel waar ek myself volgende jaar sien. As die studentekorps vir my stem, wil ek graag die SR-lid vir Gemeenskapsinteraksie wees, soos julle dalk kan aflei van my CV. En verder wil besig wees om my Meestersgraad in Politieke Wetenskap te verwerf met ‘n tema wat kan bydra tot die verbetering van mense se lewenskwaliteit of –kanse.

Ek glo die beste soort groei is die “yster slyp yster” soort. Dit is deur die mense met wie ek in verhoudings staan wat ek die heel meeste leer, mits ek bereid is om myself voortdurend te laat uitdaag. Dis nie altyd gemaklik nie, maar ek het by my ma geleer dat dit tot almal se nadeel is as ek aanstoot neem (en dat mense in elk geval gewoonlik foutiewelik glo dat iemand hulle aspris probeer uitlok).

Dit is die unieke geleentheid wat die Leef en Leerhuise bied om my verder in verhouding met verskillende mense te laat groei, wat my so daartoe aantrek. Party mense daag my regtig, eerlik, meer uit as wat vir my gemaklik is, en ek het ‘n rukkie gewik en geweeg voordat ek hierdie aansoek ingee. Maar ek glo tog dat dit is waar ek moet wees.

Anders kyk ons dalk net die sandpaadjie na ‘n oplossing of twee mis.

Kategorië Life, the universe and everything
Tagged: , , , , ,

nog nurture

25 April 2009 · 3 Kommentaar

Dit het pas begin reen op Stellenbosch. blog2

Om my storie te vervolg. Toe ek terugkom van vakansie, het die wortels en uie ontkiem! Ek was lanklaas so… nee okay, ek raak opgewonde oor baie goed, so I guess ek was redelik onlangs so opgewonde. Maar ek was baie opgewonde hieroor. Het jy geweet mens kan uiesprietjies net so eet? Trek hom uit die grond en gooi hom oor jou slaai…

My ma het my nou die Maandag, toe dit ‘n vakansiedag was, gehelp om NOG plante uit die tuin by die huis te grawe en hulle hier te kom plant. Daar is dekades laas iets geplant by Banhoek 149, toe hier nog ‘n gesin gewoon het en ‘n kniehoogte baksteenmuurtjie om ‘n huis nog sin gemaak het. Die universiteit het regtig ‘n patetiese werk gedoen sedertdien om ons tuin te onderhou.

So ek en Mamma Nelleke het die grond probeer losspit en dit was een van die laaste bitter warm dae… en toe kom daar ‘n man verby en smeek ons vir werk. Regtig, smeek. En ons se ons is jammer, ons het regtig net hierdie een gat om te grawe, ons kan hom nie besighou met werk nie… en hy smeek weer… en ons se ons is jammer. En toe stap hy maar aan. En toe hy so 20m af in die straat is, toe besluit ek ag man, al spit hy een gat en ek gee hom nog ‘n klein werkie iewers anders, waaraan ek nog sal dink, dan kan hy darem R15 maak… hy was so desperaat. En toe roep ek hom terug… en op die ou end het ons maklik 2 ure se werk vir hom uitgedink en daar’s nou baie meer grond losgemaak rondom die huis as wat ek en my ma ooit sou.

Aarbeie, kruisement, rocket, basil, seldery, origanum, tamaties… dit lyk regtig of jy veronderstel is om Vrouens te Bemagtig met daai tuin, het een van my vriende geskerts. Hy’s so mooi reghoekig en in die middel van nerens ook nog. En in die voortuin: laventel. Ek vind my van tyd tot tyd aangetrokke tot die beddinkies; ek wil net iets gaan DOEN daar. Maar dis Sondae se voorreg. Ek probeer Sondae daarvoor tydmaak en die res van die tyd mag ek glad nie.

“Nurture,” het Anmaree gese toe ek haar dit alles vertel. “Jy hanteer hierdie tyd deur vir ander goed te sorg, ander goed te nurture, en dis baie goed.”

Ek begin ook vir die eerste keer opgewonde raak daaroor om kinders in my space te he. Om kinders te kan verwelkom, te kan versorg. En ek begin dink liefde is altyd ‘n klein bietjie buite jou beheer, want die mense wat jy liefhet is hulle eie mense. So liefde is ‘n bietjie oorgawe… en ware vreugde dus ook. En ek sien vir die eerste keer uit daarna om ‘n groot deel van my toekoms, my lewe, op te gee vir iemand.

Hierdie week het dit begin reen, en die lug was eergistermiddag so ‘n ongelooflike kleur dat ek dit moes afneem. So hier’s ‘n vinnige kiekie van die eerste stuk tuin wat ek en Christo gemaak het, met die wortels en uie wat begin uitkom.

blog1

Kategorië Life, the universe and everything
Tagged: , , , ,

‘n meta t-opsie blog.

24 Januarie 2009 · 2 Kommentaar

Jippie! Ek woon in ‘n nuwe huis! En ek het ‘n kat! Soos jy dalk mag weet -… of nie. Ek bedoel. Um… okay ek sien die ding so.

My nuwe kombuis. Ons het te veel perskes present gekry en ek het gistraand bietjie verspot geraak net voor slaaptyd.

My nuwe kombuis. Ons het te veel perskes present gekry en ek het gistraand bietjie verspot geraak net voor slaaptyd.

Daar’s soort van twee soorte blog lesers (“nee, drie,” se die spreuke digter in my kop). Daar’s mense wat my blog lees want hulle ken my. Omoes – here’s to you. Bernard – my blog se foto’s het nou al geleer hulle kan anyway nie wen teen joune nie en is nou al heel rustig met jou. Dorette – hou op tyd mors by die werk! Pieka – glad you popped in. Mamma.

Dan is daar mense in die klein Afrikaanse blog gemeenskappie hier op WordPress – verenig deur die feit dat ons vir WordPress gese het ons blog in Afrikaans en nou laat hy ons weet as daar ander blogs in Afrikaans gepubliseer word. Hierdie mense is vreeslik wispelturig en ek’s maar net dankbaar as WordPress my soms per ongeluk op die “top posts” vir die dag sit en my blog hits skielik die hoogte inskiet. Hiehie… maar ek sal love om hierdie mense se guns, en aanhanger-skap, te wen. Ek sien op hulle blogs hoe hulle mekaar leer ken en oor en weer comments begin gooi en sommige regtig ‘n pad saam begin stap. En ek dig hulle lingo. Woernaal? Hoe cool is dit! Of is dit nou bietjie AS van Straten van my?

Die derde een – ja, spreuke digter, jy’s reg – is die random search mense. Mense tik in op Google “Melktert kommissie se akkoorde” of “Clifton pictures” of “piel” en hulle kom by my blog uit. (Die “piel” search, wat al meer as een keer voorgekom het, het ek nou regtig nie anticipate toe ek die woordjie genoem het in hierdie blog nie. Hoe moes ‘n onskuldige meisie soos ek dit nou gesien kom het?).

In any case. As those in Category 1 would know – and no-one in the other categories could possibly – I’ve just moved out of my beloved Huis ten Bosch and into a university house on the other side of Stellenbosch campus.

Maar nou’s ek eintlik lus om te blog oor my lesers. Soos – hoekom sal mens blog in Afrikaans as jy weet jy’t regtig ‘n pebble in die Eersterivier se kans dat enigiemand behalwe die Klein Afrikaanse WordPress Gemeenskappie ooit sal begin om jou blog te volg? Wil mens dit nie ten minste moontlik maak vir internasionale lesers om jou blog te volg nie? Want hoeveel waardevolle terugvoer en invloed en allerhande dinge verloor jy dan nie? Ek het al hieroor gedink en my blogs probeer T-opsie. (Ja, dis ‘n werkwoord. Ek het so besluit.) Dis uitmekaar geskeur deur die media, maar ek dink nogsteeds die T-opsie is die beste, mees pragmatiese antwoord op ‘n moeilike vraag.

Maar soveel soos ek as huiskomiteelid met genot verbaal ge-T-opsie het (okay nou ruk hierdie werkwoord ding handuit) so min kry ek dit in blogs reg. Dis seker ‘n goeie ding. As ek in een taal begin, wil ek in hom klaarmaak. En as ek eers Afrikaans begin het, ontwikkel die blog ‘n ritme wat ek nie wil breek nie.

In addition to this, most of my current readers are almost certainly Afrikaans and my effort would be of no value to them as they switch unchallenged but unenriched to their other mother tongue. But any English reader that may have stumbled across my blog this once, when she encounters an Afrikaans paragraph, would probably stop reading. (As I would if I only understood half a blog).

Soos dit vir my lyk, is daar dus net twee opsies buiten die T-opsie. Skryf alles in Engels, soos etlike van my vriende alreeds besluit het. Of skryf alles in Afrikaans behalwe wanneer ek nie lus is nie.

(Terloops, as jy nie die woord “meta” ken nie, of nie in die konteks waarin ek hom graag soms gebruik nie, doen jouself ‘n guns en leer hom. Dis een van daai begrippe wat jy ken maar jy’t nooit ‘n woord gehad om dit te beskryf nie. O, en dit klink slim.)

Kategorië Life, the universe and everything
Tagged: , , ,