Klokkespel; vurige ontkenninge en ‘n fliekmeester met ‘n opinie

Vandag het die Meintjese ’n bietjie die “stad” Wageningen verken; Marita se vriendin Christelle ontmoet en met haar saam na Utrecht gereis.

Woensdae, sê Marita, is markdag in Wageningen. ’n Klomp winkels en ’n paar ander mense stal hulle goedere uit op die groot plein voor die kerk. Wat ’n treat om tussen die interessante winkeltjies deur te loop! Baie kleurvol met lap en vrugte en blomme te koop! En ander happies… onder andere stroopwafels (hmmmm… groter as waaraan ons in pakkies as geskenke kry en vars van die rooster). Ook vis (wat natuurlik sterk ruik! Marita het ons voor die tyd gewaarsku) en “goedkoop” klere… ons sal binnekort MOET ophou in Rande dink anders gaan ons niks koop nie; dis net te duur.

 

 img_0055.jpg 

Ná die markie het ons vir Christelle ontmoet. Sy au pair ook hier in Wageningen en sy kom van Pretoria, maar sy’s ouer as ek. Haar ou (ook ’n Suid-Afrikaner) doen sy Ph.D. in ’n Delft. Christelle het saam met ons per bus, en toe per trein, Utrecht toe gereis. Dis so 20minute met die bus, ’n oorklim op ’n trein en dan nog 20minute met die trein. Ek was weer net so vaak! Wat is fout met my? Ons sussies het natuurlik gistraand in die kamer tot laat gesels, maar darem nie so laat nie…

 img_0075.jpg

Ons was ook gistraand ’n bietjie spyt oor ons somernagklere. Marita sê dis regtig nie hoe Hollandse somerweer is nie! Ek hoop wragtig nie so nie, want dis seker een graad warmer as die reënerige wintersdae op Stellenbosch. So… in die hoop dat ek sou aanpas by die warm weer, het ek ’n rokkie aangetrek. Ek het lank by myself daarop probeer aandring dat dit warm is! Dat dit somer is dié! Maar dis ‘n koelerige somer… seker 18 of 20 grade celcius. Marita sê dit word regtig warmer. Dit het pas (dis nou 20h55 en helderligdag) begin reën.

In elk geval. Utrecht. Wow! Baie meer van ’n stad. Ons het lekker by ’n kafeetjie – iets tussen ’n O’Hagans styl pub en ’n restaurantjie – wat oor een van die gragte uitkyk, middagete geëet en ons verkyk aan die fietse wat in die strate afjaag… en die meisies se snaakse klere.

Terloops, Franse mans mag dalk volgens Pieka almal lang neuse hê en dus nie die moeite werd om na te kyk nie, maar Hollanders… wel… Marita sê sy en Christelle het ná heelwat nadenke die storie só opgesom. Hollandse ouens is óf baie lelik of baie mooi.

 img_0108.jpg  

Ná die middagete het ons al wandelende tot by die Domkerk in Utrecht gestap. Die Domkerk – waarvan julle sekerlik meer op die Internet sou kon lees – is die hoogste gebou in Nederland, dink ek. Dit het ook vir my spesiale waarde, want Omoes (my ouma, wat hopelik ook hierdie blog gaan lees!) het in Utrecht grootgeword en het ’n skildery/tekening van die Domkerk in haar woonstel. Ek het soort van grootgeword met die beeld in my gedagtes. Die “dom”vooraan is natuurlik nie dom soos in stupid nie! Die kerk maak seker maar ’n bietjie van ‘n “dome”… nog een van die woorde wat so snaaks klink in Afrikaans, maar heel normaal is in Hollands!

Ons het ’n bietjie in die pragtige kruietuin gechill. My Omoes se ma het blykbaar gereëld opsetlik hierlangs gestap wanneer sy bedags in die stad besig was, omdat dit vir haar só mooi is. En Oupa André het net langsaan sy graad gekry. Só vleg die Meintjesdogters ook hulle eie lewensstories ’n bietjie hegter – ook geografies – aan dié van die grootouers wat hulle nooit geken het nie (en na wie ek, for one, dikwels verlang).

Daarna het ons ’n toer van die kerktoring gedoen. Ek wil jou nou nie verveel met die detail nie, maar ek sukkel om al die interessante goed uit te laat! Wat vir my die interessantste is van die hele gebou is die feit dat die helfte daarvan nie meer bestaan nie… die kerk is eerste gebou (in die 1300’s al begin), daarna die toring. ’n Hele gedeelte van die gebou wat van die toring toe loop (dit moes seker nog ’n saal of twee, of ’n klooster gewees het) is heeltemal geruïneer in ’n storm!… En hoekom sou hierdie een deel so lelik verwoes word en die res nie? Want tydens die bou van die kerk (wat natuurlik oor dekades gestrek het) het die Reformasie begin posvat in Nederland en daar was minder ondersteuning vir die oprig van dié Katolieke kerk… en so is daar nooit moeite gedoen om die bouwerk van die middelste gedeelte te versterk soos alle ander Gotiese katedrale versterk word nie. Dis vir my regtig al hoe meer duidelik dat die geskiedenis interconnected is.

In die kerktoring het ons ook die geleentheid gekry om op klein kerkklokkies te speel. 

 

 

 

 Die kerktoring was heel indrukwekkend, en Pappa kon dit tot bo maak ten spyte van sy neiging om hoogtevrees te kry! Hy’t net gevra dat ons ’n bietjie verder van die reëling af wegstaan :)

img_0112.jpg

Op pad terug op die trein het ek, Liesel en Christelle gesit en wonder hoekom die winkels so vroeg toemaak in Nederland. Op ’n Sondag is nie eens die grootste kettingwinkels oop nie. Liesel het gesê dis nogal ongerieflik. Maar ek het gesê mense is nie so materialisties hier nie – op ’n sekere punt in die dag sê hulle eenvoudig: nou het ek genoeg geld gemaak; nou kan al die klante wag tot môre. Ek gaan nou rus, baie dankie. Ja, sê Liesel, as hulle so graag winkels toe wou kom, kon hulle tog oor middagete gekom het! En Christelle, wat dit natuurlik eerstehands ervaar, kon uitlig dat Hollanders baie familegeöriënteerd is. Baie paartjies werk hier net vier dae per week elk, en spandeer die ekstra dag met die kinders (of natuurlik om na die winkels toe te gaan wat net gedurende werksure oop is!).

En ons drie meisies het besluit ons hou van die stelsel.

Dis nou 21h13 en ons gesin gaan oor ’n rukkie Shrek the Third kyk in die dorp. Dis ’n klein, persoonlike bioskopie waar die eienaar volgens Marita self die mense inroep as die fliek gaan begin, ’n kort inleidinkie gou mondelings gee oor die fliek en ook noem wat hy self daarvan gedink het, en dan self die fliek aan die gang sit. Ons sal maar sien hoe dit is!

Advertisements

One response to “Klokkespel; vurige ontkenninge en ‘n fliekmeester met ‘n opinie

  1. net i toetsie

    is dit werklik so maklik om te comment op wordpress? … as dit is is dit pretty cool…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s