Protes-niek: ‘n oefening in standpunt inneem

Dit het begin toe ek verby my universiteit se Botaniese Tuine wandel en vir die eerste keer die bordjie opmerk wat sê: GEEN PIEKNIEKS. SLEGS Kaatjiepiering Restaurant se piekniekmandjies op perseel toegelaat. Met ‘n nommer wat mens kan bel om ‘n mandjie te bestel.

Nou, jy moet verstaan, studente voel hierdie universiteit behoort aan hulle. Nou nie soos Afrikaner-alumni uit die 1960’s dink hierdie universiteit aan hulle behoort nie (dis nog ‘n heel ander vlak). Ons wil ten minste weet dat, terwyl ons op hierdie gronde leef, liefhê en (van tyd tot tyd) leer, ons hier welkom is. Hierdie bordjie het my dus dwars in die krop gesteek. As student het ek nie altyd die geld om ‘n restaurant-piekniekmandjie te bestel nie. En ek was seker baie ander studente voel dieselfde. Ek het baie dramaties ‘n groepie vriende aangemoedig: “Spot the difference!!” toe ons weer verby die hek stap. En daar en dan besluit ons, daar moet ‘n protes piekniek gehou word. Protes-niek.

Gerhard het besluit hy’s in. Ek het die Facebook event gemaak en ons twee het elk so 50 vriende genooi. Groot was ons verbasing toe ons ‘n dag later sien daar’s nou 1000 mense uitgenooi. Klaarblyklik het ons ‘n gewilde idee gehad.

Die afgelope paar jaar het ek stiller geword oor my oortuigings: my geloofsoortuigings; my geloof in Suid-Afrika; my liefde vir my taal. Ek het begin staatmaak op kundigheid, en nooit op intuisie nie. Ek het begin versigtig raak om myself uit te spreek oor goed as ek nie die heel beste ingelig was van almal rondom my nie. Vir eens het dit vir my gevoel of ek oor iets standpunt inneem, en ‘n klomp mense is bereid om hulle gewig agter myne te gooi. Dit was ‘n aangename gevoel. ‘n Meisie wat ek baie bewonder, het haar luide ondersteuning uitgespreek.

Ek het egter nogal geskrik toe ‘n vriendin by die Eikestad Nuus my op Dag 2 bel en sy wil my kommentaar hê; sy het reeds met die eienaar van die restaurant gepraat (en soos jy kan raai, was hy effe omgekrap). Om die waarheid te sê, daardie middag het dalk bygedra tot die onvolledigheid van Hoofstuk 3 (Botswana), want ek het hard probeer werk, maar my kop het heeltyd ander rigtings ingeslaan. Wat as hulle ons arresteer? Nee, sekerlik sal hulle die kampusbeskermingsdienste eerste ontbied. Maar AS hulle ons arresteer? ‘n Kriminele rekord. Voornemende werkgewers vra nie waarvoor jy ‘n kriminele rekord het nie. Wat as die arme oom se besigheid daarmee heen is na die slegte publisiteit? My liewe land, as jy sukkel om ‘n restaurant aan die lewe te hou in die hartjie van Stellenbosch (lees: restaurantbestemming deluxe), met ‘n fantastiese tuin reg rondom jou wat jy nie eens self onderhou nie, het jy groter probleme as ‘n paar studente. Right? Right.

Ek het vir Nico de Wet gecorner. “Nico! Ek het jou hulp nodig, want jy het mos al kontroversiële dinge gedoen.” Hy het gelag. En geluister na my storie, en my angste. “Nee wat, ek dink jy’s verniet bekommerd. Ek dink julle het ‘n goeie punt! En dit sal lekker studentepret wees!” Daarna het ek opgehou worry. Buitendien. ESTJ Gerhard het die bestuur van die universiteit gelaat weet. “Jy weet, net om bona fides te behou”. En hulle het nie te ontsteld geklink nie.

Teen Donderdag het 50 studente op FB aangedui hulle gaan die piekniek bywoon. ‘n Klomp studente het op die Muur geskryf: “Ek kan dit nie maak nie, maar ek ondersteun julle ten volle!” ‘n Paar het voorgestel ons boikot sommer die restaurant – en huismaat Etienne het hom verlustig daarin dat ek dadelik baie versigtig geantwoord het: ons ondersteun nie ‘n boikot nie. “Dis seker die stoutste wat jy in jou lewe was, en jy’s nogsteeds soet!” Sug. My eweknieë het nie verniet in graad 7 gelag toe ek probeer om ‘n Bad Girl toppie te dra nie. Ek het vir Gerhard erken: “Jy weet, ek was ‘n jaar op die studenteraad, en steeds is hierdie storie die mees senutergende ding wat ek al ooit gelei het.” Dit was immers ‘n groepaksie, onder my en Gerhard se leiding, wat uitdruklik ‘n reël sou breek. As dit skade doen, aan enigiemand, is dit ons skuld.

Vrydag het ek vir Ouma laat weet haar kleindogter is in die Eikestad Nuus. Niks het gebeur nie.

Die dag het aangebreek. 85 Attending! Ek is dood bekommerd studente gaan dronk word en tafels omgooi. Of dat daar wagte by die deure sou wees om ons toegang te verbied. Ons stap rondom die tuin en let op dat studente ook by die agterhek sou kon ingaan as hulle voor weggewys word. Of met leë hande sou kon ingaan en ‘n maat kry om ‘n piekniekmandjie oor die draad aan te gee.

Maar teen 12h30 is ek en Gerhard net bang dat geen studente eens opdaag nie. Die eerste studente sien ons twee alleen voor die hek en sê, shame, hulle sien half die oom se punt in in die Eikestadnuus-artikel. Ek verduidelik dat hy eintlik nie ‘n punt het nie – dat hy dalk kan probeer geld maak uit toeriste en die oppermiddelklasinwoners van Brandwag, Paradyskloof, die Boord en Mostertsdrift, maar dat ten minste huidige studente darem alreeds genoeg betaal om hier te studeer. Die twee lyk ‘n bietjie twyfelagtig. Dan gaan soek hulle  elders gaan piekniekplek.

Maar toe kom ‘n groepie. Ons verwelkom hulle en hulle gaan in, en niks gebeur nie. Hulle maak hulle op die gras tuis. Niks gebeur nie. Nico de Wet kom aangestap en lyk teleurgesteld dat daar nie ‘n konfrontasie is nie. Vyf minute later is hy klaarblyklik verveeld, en stap hy weer huis toe. Nog ‘n groepie maak hulle opwagting. En nog een en nog een. “Ag wat, ons kan seker ook maar ingaan?” sê Gerhard. Nothing continues to happen.

Na ‘n uur is daar seker 40 studente heerlik uitgespan op die gras. Dis duidelik dat die Restaurant net anderkant die bosse, af in die paadjie, besluit het om ons oudpresident se befaamde strategie van stille diplomasie in te span teen ons anneksasie van grondgebied. Ek begin weer teen ‘n normale tempo en toonhoogte praat. Captain Cautious sluit hom by ons aan, toegerus met sy nuwe bordspeletjie. Die Matie-fotograaf neem fotos. Vier ure later pak ons rustig op en stap huis toe.

Wat het ons bereik? Ons is, om eerlik te wees, nie seker nie. Wel, ons het ‘n heerlike piekniek gehou. Ouma het haar kleindogter se gesig in die plaaslike koerant gesien. Ek het verskoning gekry om ‘n bakkie hummus te koop – yum.

Ons het ‘n paar duisend mense bewus gemaak dat ons ontevrede is. Sal hulle die bordjie afhaal? Ons dink nie so nie. In elk geval, nog nie. Gerhard het ons ondersteuners op FB beloof ons sal studente ‘n petisie laat teken op die Rooi Plein. Ons sal veg vir ons reg om ons eie, bekostigbare middagete in die pragtige Botaniese Tuin te eet.

En ek sal myself herinner: Ek het opinie. En ek mag dit maar durf lug, van tyd tot tyd, selfs as dit ‘n paar mense ontstel. Ons het ‘n piekniek gehou. Dalk kan ons eendag ‘n veel groter onreg aanpak – en wen.

Advertisements

6 responses to “Protes-niek: ‘n oefening in standpunt inneem

  1. Jy het ‘n stem EN ‘n opinie! Ja, ja, ja! Heerlik om die storie te lees … Dankie. En ek stem heeltemal met jou standpunt saam. As ek daar was, so ek definitief saam ge protes-niek het.

  2. Hehehe… dankie Idelette :)

  3. Baie geluk dat julle standpunt ingeneem het! En nogal so vreedsaam daarby! Ek wens net die studenet wou al meer standpunt inneem oor sekere vakke wat net in Engels aangebied word met Engelse handleiding ook. So moes my kind in 2001-2004 Engels doen, toe die Varsity nog taamlik Afrikaans was. Dit het veroorsaak dat sy dit moes her. Studentwees is juis die tyd vvan standpunt inneem!

  4. Dankie! Daar is nie ‘n maklike antwoord op die taalkwessie nie, ongelukkig. Maar Adam Tas studentevereniging beywer hulle wel vir “Transformasie in Afrikaans” – besoek hulle by http://adamtas.org/.

  5. Selfs uit Admin B het julle ondersteuners gehad :) Wel gedaan!

  6. Lol… dankie Andre!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s