Rape

In die National AIDS Coordinating Agency (NACA) biblioteek lees ek oor hoe die virus in Botswana versprei. Ek het reeds hierdie kwessie in my hoofstuk gedek, en ek blaai maar net deur hierdie deel van die artikel om te kyk of hulle enige ander verduidelikings bylas. Vinnige ekonomiese groei; die uitbreiding van die vervoernetwerk; verstedeliking; ‘n hoogs mobiele bevolking; ongelykheid; stigma en ontkenning; en vlugtelinge van onstabiele buurlande. Jip, ek het al hierdie faktore genoem.

Maar dan staan die outeurs stil by een faktor: die posisie van vroue. Waar hulle die ander faktore net noem, doen hulle moeite om hierdie een te beklemtoon. Volgens hulle is vroue steeds in Botswana gewoonlik ondergeskik aan mans en “verduur” hulle allerlei “misbruike”. Hulle haal ‘n onlangse studie aan. Die meeste vroue voel nie hulle  mag seks met hulle man weier nie en voel nie vry om te onderhandel oor kondoomgebruik of ander voorsorgmaatreëls nie. ‘n Ongelooflike aantal vroue, insluitend studente, rapporteer dat hulle maats in die afgelope jaar fisies aggressief was met hulle. Ek dink aan die Motswana meisie by my gasvrou se kerk, wat vertel het hoe sy as 9-jarige verkrag is. Sy sukkel nou nog om mans te vertrou. Ek dink aan my gasvrou, self ‘n Motswana, wat gereëld haar verstomming uitspreek oor hoe goedkoop soveel jong meisies hulleself hier vir mans maak. Ons het een keer in die kar gepraat oor wat dit dalk kan veroorsaak: materiële nood en gebrek aan liefdevolle sorg en ervaring van gesonde verhoudings.

Goeie mans het so ‘n groot rol om te speel, dink ek vir die soveelste keer.

Ek neem ‘n kombi tot by die stasie. (Dis nie ‘n “taxi” nie, verduidelik enige Motswana vir jou; anders, hoe sou jy dit onderskei van ‘n sedan waarvoor jy per kilometer betaal?)  Ek moet na die ander kant van die treinstasie stap vir my volgende kombi. Ek is nou al ‘n pro hierin. Vou die sambreëltjie oop: as ‘n skerm teen die son, en ook om oogkontak met die verbaasde mense te vermy. Ek is regtig die enigste wit mens binne sig maar ek voel perfek veilig. (My Motswana vriende van alle rasse het saamgestem ek sal veilig wees as ek my besittings mooi oppas.) Stap langs die treinperron verby; dodge die taxis (die sedan soort); weef jou pad saam met al die ander lywe deur die stalletjies. Vrugte; ongelooflik baie loslekkers; airtime; hoede en belts en skoene; boontjies wat ek nie ken nie; toiletpapier; braaiende mielies; soetriet; ‘n onbekende soort groen blaregroente. Stap saam met honderde swart voete op teen die trappe en oor die voetgangersbrug oor die treinspoor.

Anderkant gekom kies ek koers deur nog stalletjies na waar die kombis staan wat na my buurt gaan. Weer al wewend deur die stalletjies, begin ek dink aan aandete en ek besluit om te stop en te vra oor die groente. ‘n Vrou is besig om die groot groen blare en stingels op te sny en te verpak in plastieksakkies. How much? Four pula. Okay. Soos ek my geld uithaal, vra ek: What is it called? En sy antwoord: Rape.

Raip?

Rape. My kop vertaal gou-gou. Raa-pe, in Afrikaans. Een raap, baie rape.

Ons handel die transaksie af en ek trek my romp ‘n bietjie laer. Bliksem. Dit is seker net toevallig. Maar dit is nie cool dat hierdie woord in Botswana kan beteken “’n skreiende misdaad teen liefde en seksualiteit” of “’n blaregroente” nie.

Advertisements

3 responses to “Rape

  1. Hallo daar. Dalk moet jy die feit dat vrouens aan al wat ‘n man se grille uitgelewer is verder ondersoek. Dalk is dit een van die groot redes waarom Afrika suid van die Sahara so groot HIV voorkoms het. Mooi bly.

  2. Dankie Blertus! Ja dit is ‘n hoofoorsaak. Veral arm vroue, of vroue wat om die een of ander rede migreer (bv weens konflik of vir ekonomiese geleenthede elders), is kwesbaar vir verkragting en afpersing. Ek dink altyd aan die morele stem (moenie rondslaap nie, moenie ‘n slet wees nie) teen die werklikhede van sulke vroue. Dis so complicated en mense is so gou om te verdoem. En eintlik maak die samelewing hulle ook skuldig as hulle ‘n land vol seksueel gebroke mans met haat in plaas van hoop benader.

    Ek dink goeie mans kan meer aan hierdie probleem doen as wel-bedoelende, militante vroue.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s