Maslow en Ubuntu

Na kerk het ons na sy huis toe gery. Ek het ingekom; sy ma ontmoet. Haar Engels is so goed. Sy het nie werk nie. Die huis is vol mense – ‘n ruim huis vir Kayamandi, in die ouer en beter deel van die dorp. Daar’s etlike jong vroue met kinders wat kuier en rondsit. ‘n Seun sit en eet pap met suurmelk. Op die mure en op rakke is daar skoolfotos.

In die agterplaas is ‘n groterige buitekamer uit sinkplate gebou. Nelson woon hier buite, klaarblyklik in ‘n kamer van sy eie. Maar oor die weke noem hy dikwels dat hy net wens hy het ‘n plek gehad waar hy alleen kon wees met sy gedagtes. Maslow se gat, dink ek. Nelson se fisiese behoeftes is gedurig in gedrang, maar hy noem gereeld sy behoefte om te dink; om stil te kan wees; om te filosofeer oor die dieper dinge van die lewe.

Ons stap op ‘n dag na Stellemploy. Ek ken hierdie werkburo goed; ek werk in dieselfde gebou. Nelson maak ‘n afspraak vir die volgende week. Ons kyk na die fotos teen hulle mure van mense wat tuinwerk leer doen; messelaars- en bouerswerk; elektrisiëns en die groep waarmee Stellemploy graag spog – hulle chefs waarvan die een al ‘n internasionale beurs gekry het.

Stellemploy adverteer glad nie, want mense is bewus van hulle. Elke dag kom dosyne mense daar in. Hulle probeer soveel as moontlik mense help om opleiding en dan plasing by ‘n werk te kry. Terwyl ons daar is, praat Gaynor op die telefoon met iemand wat ‘n groep tuinwerkers benodig vir ‘n kort projek. Maar ek wonder hoekom Nelson nie regtig bewus was van Stellemploy nie. Ons is al te lank vriende dat hy nou vir my sal jok oor so iets en boonop kan ek mos sien hy’s nuut by die kantoor. Ek kyk na die demografie van die mense wat by Stellemploy wag vir hul onderhoude. Daar is wel mense van Nelson se portuurgroep.

 

Nelson, ek sien jou altyd alleen en jy praat nooit van vriende nie, sê ek. Hy het nie eintlik meer vriende nie, sê hy. Hy het geleer jy kan nie mense vertrou nie. Maar jy moet mense kan vertrou, sê ek. Op jou eie kan ‘n mens nêrens kom nie. Maar ek wil nie preek nie en ek kan uit sy stories aflei dat hy al dikwels teleurgestel is. Die spaza shop is besteel deur iemand wat hy as ‘n vriend beskou het. Mense belowe werk en deliver nie. (Ek wil nie een van hulle wees nie; ek belowe niks.)  En dan is daar die ma van sy kinders. Sy is stupid, sê hy. Hy gee nie om wat met haar gebeur nie. Hy wil net sy kinders naby hom hê. Hy wil hulle leer sokker speel.

Die ma van sy kinders weier om hom toe te laat om sy kinders te sien en die maatskaplike werkers is aan die ma se kant, want hy kan nie onderhoud betaal nie. Ek raak stilletjies verstom met die besef dat hy nie eens iets noem van dat dit ‘n fout was om onbeskermde seks te hê as ‘n mens glad nie vir kinders sal kan sorg wat jy dalk verwerk nie. Maar die behoefte om by sy kinders te wees is duidelik. Ek wonder by wie ‘n seun in die townships sy lewenslesse leer. Ek wonder hoe finansieel secure ‘n mens dan nou gaan probeer wees voordat jy kinders verwek – veral as jy nie ‘n realistiese verwagting het om bo desperate finansiële omstandighede uit te styg binne vyf jaar of ‘n dekade nie. As jy nie skool klaargemaak het nie. As daar ‘n skoolmeisie is wat by jou wil slaap.

Ons gesprekke is gepeper met sy versoeke vir stuff. Ek raak ongemaklik. Een keer, op pad huis toe van die kerk af, sê hy dat alles tog sou uitwerk as hy net ‘n kar gehad het. En verloor ek my humeur. Jy dink die lewe is vir my maklik! Jy dink hierdie mense wat hier rondry in motors het geen sorge nie! Hoe weet jy dit? Hulle is weer bekommerd oor ander goed! Jy dink jou lewe sou perfek wees as jy geld gehad het! Jy verstaan nie! Hy is stil. Dit lyk asof hy wag vir my uitbarsting om op te hou. Asof hy nie eens hoor wat ek sê nie.

Hier, vat hierdie sakkie aartappels, sê ek. Ek stop dit vir hom in die hand, laai hom by die huis af, en ry. Spyt oor my uitbarsting en verward met sy klaarblyklike onbegrip daarvoor.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s