Tag Archives: poverty; vrou

ervaring 2/2

Die vrou het die verkeerde student gekies om by te bedel. Vanmiddag het ek ‘n bietjie ekstra tyd. Ek het pas ‘n “beggar survival kit” in die handegekry – ‘n onklaar projek van my hk termyn – en deurgekyk. Ek is regtig vanmiddag bereid om te help… op enige ander manier as geld of kos.
Sy vertel vir my kortliks haar storie. Kayamandi, twee kinders, geen man, geen werk al probeer sy hoe hard. Haar gesig is vol ou snye. Een van daai breë plastiek bierglase in die hand. Ek wonder waardeur sy al alles is.
En ek bied aan om saam met haar Bergzicht Opleidingsentrum toe te stap sodat sy kan inskryf vir ‘n kursus en oor ‘n paar weke ‘n diploma kan hê in bejaardesorg of huishouding of iets soortgelyks.
Sy verstaan klaarblyklik nie lekker nie; sy frons ook vreeslik vir my asof sy sukkel om haar oë oop te maak. Ek probeer weer.
“Wil jy werk hê, Mevrou?” (Ek sou myself ná die tyd probeer analyse aangaande daardie “Mevrou”. Pieka sê ook altyd Meneer en Mevrou.)
“Ja, ek soek al heeldag werk maar daar is nêrens werk nie!”
“Ek weet hoe jy kan werk kry.”
“Wat. Hoe bedoel jy nou.”
“Net daar onder – nee ek sal saamstap, ek het tyd – by die taxi ranks…”
Ons mompel oor mekaar. Ek oor werk en diplomas en die taxigeld elke week om huis toe te kan gaan vir die naweek. Sy oor waar sy moet slaap en haar twee kinders en dat sy honger is.
“Honger? Weet jy van Voedingsaksie?”
“Nee, daai plek se kos laat jou maag werk! Ek eet nie daardie plek se kos nie! Ek het nie eens ‘n plek om te kak nie!”
Sy stap weg, vies. Bedel halfhartig by die volgende ongemaklike groepie studente met hulle sneakers en sonbrille. Ek kom agterna. “Wil jy werk hê? Soek jy regtig vir werk, Mevrou? Ek kan jou help!”
“Nee fok dit!” Sy hou aan stap.
“Wat van jou kinders..? Wil jy hê hulle moet kos kry?”
“Ja, die kinders het kos nodig, gee vir my kinders kos.”
“Ek wil nie vir hulle kosgee nie. Ek wil hê jy moet vir hulle kosgee! Kom saam, toe, dan gaan skryf ons jou in by Bergzicht.”
Sy’s omgekrap. Dit het ek nie verwag nie. ‘n Paar gemompelde vloekwoorde en sy gooi haar plastiek koppie neer. Ons kyk dit agterna. Sy’s ontsteld. Dalk na aan trane. Dis asof sy teen haarself veg. Ek skrik. Sy mompel nog ‘n paar woorde, in ‘n nuwe stemtoon.
En toe laat ek haar wegstap. Daar was nie plek vir self-righteous wees nie. Ek was bewus dat ek ‘n soort selfverwyt in haar wakkergemaak het. Die vrou met die snye oor haar gesig wat nie regtig werk wil hê nie, skielik bewus dat haar situasie dalk gedeeltelik ook haar skuld is, en haar probleem is om op te los, maar sy kan net nie so ver kom nie. Die vrou sonder ‘n bra wat nou aaklig voel aan die buite en die binnekant. Hooploos.
Die vrou sonder ‘n plek om te kak, 10 minute later weer met ‘n smile aan die bedel. Die meisie met Ipod in haar ore. Terug agter die rekenaar.

Advertisements