Tag Archives: poverty

aansoekseisoen

Dis aansoekseisoen. Ek het pas vir die Mandela-Rhodesbeurs en die Leef-en-Leerprogram aansoek gedoen en dit het my gedwing om bietjie te soul search.

Dis maar vrek moeilik om te besluit wat om te se en wat om uit te los. Op die ou end kan ek maar net hoop dat ek myself weergee en dat hulle ‘n ingeligte besluit vir of teen my maak. As ‘n aansoek akkurate weerspieeling van myself is, en my nie ‘n plek in die Beurs of die huise kry nie, moet ek my daarby berus. Maar wat as ek net ‘n slegte opstel skryf? Wat as ek nie dit beklemtoon waarvoor hulle kyk nie, al is dit deel van my?

Hier is die essay wat ek vir Leef en Leer geskryf het.

Almal ken die storie van die man wat op die strand geloop het en sover hy loop, uitgespoelde seesterretjies teruggegooi het in die water in. Toe iemand hom daarop let dat hy tog nooit al die duisende seesterre kan red nie, het hy geantwoord: “Maar vir hierdie een het ek ‘n verskil gemaak.”

Ek stem saam dat ‘n mens soms vir ‘n individu iets onsaglik waardevol kan doen, en dat dit dalk op sigself die moeite werd is. Maar ek wil graag die metafoor van die seesterretjies ‘n bietjie aanpas. Ek hoop ons kan aanhou worstel met hoe om die branders te keer – die branders van armoede, verdrukking en geweld, wat duisende mense soos seesterre uitspoel. Ons verken in die regering, in gemeenskapsprojekte, in ons studies, die sandpaadjies na daardie oplossings. Maar sover soos ons stap, gooi ons individuele seesterre terug. Ek glo dus die wêreld moet beide op sisteemvlak en op interpersoonlike vlak verander… en ek hoop ek kan ‘n bietjie van albei doen.

Ek is ‘n politieke wetenskapstudent met ‘n passie vir Suid-Afrika en Afrika. Ek glo nie eintlik in vyfjaarplanne nie – die lewe verander te vinnig en te veel en ek hou daarvan so. Net op een ding kan ek reken: ek as mens sal aanhou groei en daarom sal ek or 5 jaar meer ingelig en betrokke in die problematiek van my land sal wees as ooit. Of ek binne of buite die land sal wees waarvoor ek so lief is, weet ek nog nie! Ek hoop eintlik ek sal ten minste ‘n bietjie internasionale ervaring opgedoen hê teen daardie tyd. Dalk is ek oor vyf jaar besig om my Frankofone Afrika-droom te verwesenlik.

Ek weet wel waar ek myself volgende jaar sien. As die studentekorps vir my stem, wil ek graag die SR-lid vir Gemeenskapsinteraksie wees, soos julle dalk kan aflei van my CV. En verder wil besig wees om my Meestersgraad in Politieke Wetenskap te verwerf met ‘n tema wat kan bydra tot die verbetering van mense se lewenskwaliteit of –kanse.

Ek glo die beste soort groei is die “yster slyp yster” soort. Dit is deur die mense met wie ek in verhoudings staan wat ek die heel meeste leer, mits ek bereid is om myself voortdurend te laat uitdaag. Dis nie altyd gemaklik nie, maar ek het by my ma geleer dat dit tot almal se nadeel is as ek aanstoot neem (en dat mense in elk geval gewoonlik foutiewelik glo dat iemand hulle aspris probeer uitlok).

Dit is die unieke geleentheid wat die Leef en Leerhuise bied om my verder in verhouding met verskillende mense te laat groei, wat my so daartoe aantrek. Party mense daag my regtig, eerlik, meer uit as wat vir my gemaklik is, en ek het ‘n rukkie gewik en geweeg voordat ek hierdie aansoek ingee. Maar ek glo tog dat dit is waar ek moet wees.

Anders kyk ons dalk net die sandpaadjie na ‘n oplossing of twee mis.

in konteks

Flippen cool. Ek dog die stad is Engels? Ek het eers Engels en later Afrikaans gepraat met almal – die administratiewe beampte, die volledig viertalige dame by die konsulaat, die meisie agter die toonbank by die calamari-winkel, en die vrou vir wie ek die calamari gekoop het.

Ek bedoel nie om heeltyd oor mense in die straat te blog nie, maar hier gaan ek weer. Ek’s so spyt ek het nie haar naam gevra nie. Ons het eintlik diep dinge gepraat.

Ek het haar amper gedodge – ouerige vrou met ‘n netjiese sweetpaktop en uitdrukkingsvolle blou oë. Sy’t gevra vir kos, en, wel… ek was eintlik lus vir die geselskap. Die stad is so mooi en ek het gewens ek kan dit met iemand deel!

“Ek kan nie baie vinnig loop nie, meisie; ek is oud, ek het pas ‘n inspuiting gekry en ek het leukemia.” Hoop sy ek raak lui en gee net vir haar die geld? Maar ek pas my tempo aan en stap saam. Sy stap regtig moeilik, maar sy kom.

Af in Langstraat en om die hoek. “Ek het nie baie geld nie, Mevrou… watter winkels is hier naby?”… Ons besluit op die calamari take away plekkie teen Groentemarkplein. Weer huiwer sy: “Ag, ek wil nie jou tyd mors nie. Jy kan sommer vir my geld gee vir ‘n koeldrank…”

Ek sê my ma het my geleer ek mag nie geld gee nie, maar ek sal vir haar kos koop. Is dit okay? Ja, dit is. Oor die kos is sy vaag – dit is eintlik nog vroeg op ‘n bord kos te eet, seker 11h – maar sy’s seker sy wil ‘n Coke hê! Ek voel bietjie asof ek met ‘n kind werk, maar dis nie sleg nie.

Ek vra waar sy grootgeword het. Oral hier rondom die Kaap, sê sy. As sy praat, hap sy so vir lug, soos ‘n dogtertjie wat ooropgewonde is; herhaal partykeer ook woorde. Ons gaan sit en wag vir die kos.

“My man het dertien jaar lank gestudeer! Hy het eers ingenieurswese en toe sielkunde gedoen.” Ek soek nog die swaarkrystorie – hoekom het sy my gevra vir kos? “Sjoe, julle moes gesukkel het om die kospotte aan die kook te hou vir dertien jaar?” raai ek. Nee! “Die sielkunde was sommer – hy het dit sommer deur UNISA gedoen. Die regering het hom ‘n pos aangebied – hy’t nie gevra daarvoor nie; hulle het hóm gevra – maar hy het gesê nee, hy hou van wat hy doen; dis wat hy altyd wou doen.” “Die ingenieurswese of die sielkunde?” “Nee die ingenieurswese…

“Maar jy weet… As twee mense saam iets doen, kan net die een wen.”

“Hoe bedoel Mevrou… Tannie? Ek verstaan nie…”

“Jy sal nie verstaan nie… jy’s nog te jonk.” Sy sê dit goedig.

“Ja, ek is nog jonk,” erken ek. “Ek’s 22.”

Die kos kom; die kelnerin bied haar ‘n bietjie spesiale sout aan vir die chips. “Nog, nog, asseblief! Dankie.” Nes ‘n kind… Maar sy eet netjies.

Sy vertel my van reg en verkeerd – dit wat goed is, is reg. En dit wat jy weet sleg is, dit is verkeerd. “Dis net moeilik om altyd die verskil te ken,” stem ek saam. En sy keer terug na haar vroeëre wysheid: “As twee mense saam iets doen, sal die een wen, en die ander een sal verloor.”

“Ek hoop nie dis waar nie…”

“Maar dit is!” dring sy aan.

“Dan wat sal ek doen – die wêreld op my eie aanpak? Is dit al manier om te wen, Tannie?”

Sy dink ‘n bietjie na. “… Ja.”

“Maar ek wil nie alleen wees nie, Tannie! Dan sal ek eerder van die begin af bereid wees om ‘n paar opofferings te maak…”

“Ja sien, dan het jy klaar verloor.” Sy glimlag en sy’s oortuig van wat sy sê, maar hartseer.

“Dis eintlik iets waaroor ek baie dink op die oomblik,” erken ek. Ek voel skielik deursigtig; kwesbaar. My oë raak warm; ek wonder of sy kan sien hulle blink.

Sy vertel my dat sy op 39 van haar man geskei het. “Dis nog lekker as mens jonk is, terwyl die verliefgeit daar is, maar eendag, as jy nou ouer word, dan kyk jy vir hom en jy dink: jou moer!” Sy lag. Ek lag ook, bietjie ongemaklik, en mompel iets van ‘n man kies met integriteit en om my voor te berei dat ons soms mekaar gaan irriteer. Maar sy lag nog; sy hoor my nie! Sit stil, kyk weer vir my en lag weer, heerlik.

En dan ernstig: “Jy sien, ons probleem was, ons het te veel baklei.”

Ek weet nie wat om te sê nie.

Vandag woon sy in ‘n ouetehuis – so iets, sê sy; klomp oumense wat saam woon – in Maitland. Sy het darem haar eie kamer. Vanoggend was sy net lus vir niks. Sy het die huis so gekyk en besef dít moet gewas word en dáárdie moet skoongemaak word en híerdie moet gewas word, en toe besluit sy net, nee. En sy trek haar laaste skoon trui aan en besluit vandag kom sy stad toe. Sy sou eers moet bedel vir die transportkoste – “dis verskriklik dat ons oumense so moet bedel” – maar sy’t vir die ander gesê koebaai; sy sien hulle weer vanaand. En toe kom sy stad toe.

Dis halftwaalf; ek moet my treinkaartjie by die Franse Konsulaat gaan wys voor twaalfuur. “Mooibly, tannie,” groet ek en staan lomp op; skop amper die stoel om. Deursigtige Cara. Hoekom? “En sterkte met die siekte…”

“Nee wat jong, ek gaan al jare aan met die ding; hulle het gesê die inspuiting wat hulle my nou gee is díe duurste, beste ding… dis díe medisyne nou. Dit werk óf heeltemal, of glad nie.” Sy glimlag en sê weer dankie.

Ek kan nie verstaan wat my so raak nie. Die trane sit vlak toe ek oor Groentemarkplein stap. Ek hoop heimlik die medisyne werk heeltemal.