Tag Archives: Roxy

goeiemôre

Early in the morning
When it’s dark outside
And the street is quiet
And our bed is warm

You rolled over slowly
Kissed me on the cheek
“Baby girl, it’s Sunday
Just go back to sleep.”

– Karen Zoid

Goeiemôre, mistige oggend. Met die wasem aan die binnekant van my venster kan ek die vetstrepies sien waar Roxy haar pote teen die glas gesit het en luilekker uitgestrek het terwyl sy my paai om die venster vir haar oop te maak. Bo die strepies, waar die wasem ophou, verrys die gekoekte verwarring van die seringboom se takke en blare. Dit word stadig lig.

Dis nou al regtig koud hier… Vroeg Meimaand. Die bome in Victoriastraat begin goud word, soos ek hulle onthou van my verliefde, verwarde, verwonderde eerstejaar. Waterdigte skoene en baadjies moet meer gereeld ingespan word en ek verlang na my gebreekte sambreel. Dis veel moeiliker om vroeg op te staan en kort te stort.

Ek gaan gou ‘n taak klaarmaak sodat ek met Ryan kan kuier vir die res van die dag.  Ek soek ‘n paar koerantartikels op oor die vervanging van Manto Tshabalala-Msimang met Barbara Hogan. Die mistigheid op die venster raak minder, van bo af, en ek probeer die wetenskap daaragter onthou.

venster

Iewers word jy ook wakker… maak dalk gereed vir kerk. Iewers op jou pa se plaas, of jou ma se huisie in die suburbs, skud jy die corn flakes uit die boks uit. Jou stiefboetie kom sit nog half bedremmeld van die slaap langs jou om die kombuistafel. Jy sit bruin suiker in jou koffie. Onthou vaagweg jy’t gedroom jy ontmoet jou vrou en tot jou skok was sy ‘n politieke wetenskapstudent. Ha. Drome kan so onrealisties wees.

nurture

“I’m astounded how much love I’ve poured on that thing in such a short space of time.” Dis ‘n onlangse opmerking van een van my beste vriende oor sy verhouding met sy nuwe troeteldier, ‘n rot genaamd Martin.

Ek en hy (my vriend, nie die rot nie!) is albei deur ‘n bietjie heartbreak aan die begin van die jaar en het albei hierdie jaar ons gemaklike koshuislewens verruil vir studentehuise.

Toe ek aan die begin van die jaar hier aankom, sit ‘n grys kat vir my en miaau. Ek het haar onthou van laasjaar; die ouens wat laasjaar hier gewoon het, het haar Slet gedoop. Hulle het haar probeer DBV toe vat, en die DBV het haar eerder gesteriliseer en vir die ouens teruggegee.

Ek het haar Roxy genoem, vir haar katkos gekoop uit my sakgeld en met die res van die huis onderhandel om haar te hou. Chandre het kom kuier en met haar gespeel. Bernard het kom kuier my met haar vergelyk. Ek het vir haar ‘n liedjie geskryf. Sy het by my voete begin slaap. Ek het haar begin troetelname noem.

kat1

En toe begin my vingers jeuk…

Kort voor lank het ek begin kruie aanhou op die vensterbank. Eers net takkies basil of wat ook al my ma gehad het, wat ons dan in kos gebruik het. Later het ek ‘n paar van my ma se plante uitgegrawe en in potte op die vensterbank gesit… waar hulle stelselmatig doodgegaan het. Ek weet nie of dit te veel water was, of te min, of te min son, of wat nie… maar die kruisement, aarbeie, seldery, basilikum, en so aan het maar net nie ge-flourish nie. Maar hulle was nog daar en ek het hard probeer om vir hulle te sorg.

Die pakkies saad in die winkels het my nog erger begin verlei as wat die skryfbehoefterak in my eerstejaar ooit kon en ek het ‘n pakkie wortelsaadjies, uiesaadjies en blommetjies gekoop wat almal belowe het hulle kan in die herfs geplant word.

Toe ek die aand voor die vakansie by Chandre gaan kuier en sy wys my haar awesome klein tuintjie, toe weet ek dis tyd. Sy’t vir my ‘n sak kompos present gegee en ek het Dorette se klein boetie oortuig om saam met my in die skemer te spit en al die plante uit te plant in ‘n klein hoekie van die agterplaas waar daar voorheen net die oorblyfsels van verdroogte gras was.

Tshepo het ingestem om die kat kos te gee en die plante water te gee elke oggend voor hy aan die werk spring met sy tesis. En toe gaan ek op vakansie teen die Ooskus.

blog11