.
my tekkies omhels minder strak as jy.
.
ek onthou jou soos vonke:
jou lippe soos dofrooi rook
jou kuite sterk soos myne brandend
stamp stamp teen die verwarde aarde.
.
die sirkel voltooi haar te skielik.
ek snak; jou soene smeul op my tong.
.
.
my tekkies omhels minder strak as jy.
.
ek onthou jou soos vonke:
jou lippe soos dofrooi rook
jou kuite sterk soos myne brandend
stamp stamp teen die verwarde aarde.
.
die sirkel voltooi haar te skielik.
ek snak; jou soene smeul op my tong.
.
My Hollandse ouma Hanneke stuur nou die dag vir my hierdie stukkie, wat gelees is by die begrafnis van ‘n familielid van ons, Oom Foppe. My Omoes het al genoeg verlies en swaarkry ervaar in haar lewe, en tog bly sy moedig, ook nou ten spyte van die simpele MS.
Omoes, ek kom eersdaags kuier met ‘n lekker “plak” swarte sjokolade!

Bonhoeffer was 'n Duitse teoloog wat deur die Nazi's vermoor is tydens die Tweede Wêreldoorlog.
“Als je van iemand houdt”
Dietrich Bonhoeffer
Als je van iemand houdt
en je bent van hem of haar gescheiden,
kan niets de leegte van zijn afwezigheid opvullen.
Je moet dat niet proberen,
je moet eenvoudig aanvaarden en volharden.
Dat klinkt erg hard, maar het is een grote troost,
want zolang de leegte blijft,
blijf je aldoor met elkaar verbonden.
Het is fout te zeggen: God vult de leegte.
Hij vult haar helemaal niet… integendeel.
Hij houdt de leegte leeg en helpt ons zo
de vroegere gemeenschap met elkaar te bewaren,
zij het dan ook in pijn.
Hoe mooier en rijker de herinneringen,
des te moeilijker de scheiding.
Maar dankbaarheid verandert de pijn
van de herinnering in stille vreugde.
De mooie dingen van vroeger
zijn geen doorn in het vlees,
maar een kostbaar geschenk dat je meedraagt.
Je moet zorgen dat je niet in je herinneringen blijft graven
en je erin verliest.
Een kostbaar geschenk bekijk je niet aldoor,
maar alleen op bijzondere ogenblikken.
Buiten die ogenblikken is het
een verborgen schat, een veilig bezit.
Dan wordt het verleden
een blijvende bron van vreugde en van kracht.
Ek het al gesê “God vul die leegte”. Ek dink God moet sommige leegtes vul.
En tog … tog herken ek ook in Bonhoeffer se stukkie my gewaarwording dat dit juis in die rou oor iets wat verby is, vind hoe ‘n ongelooflike skat ons gehad het. En hoe groot ons kapasiteit vir liefhê eintlik is.
Dalk is hierdie benaderinge tot verlies versoenbaar? Wat dink jy?
Daar’s ‘n onderwerp of twee waaroor ek regtig deesdae sterk voel, maar ek is om een of ander rede selde in die geselskap waar ek dit kan bespreek. Ha! Nou’s jy my audience.

Ek en Dorette het bietjie eeny meeny miny mo gespeel en besluit om vanaand Bella te kyk. Ek is nou nie Ryan wat boeke en series en flieks resenseer as ‘n stokperdjie nie, maar. Bella het ‘n paar vars idees en eye-opening oomblikke – en behou terselfdetyd ‘n genoegsame aantal gemaklike, bekende tonele en karakters om dit tematies op die rantjie tussen hoofstroomflieks en one-of-a-kind kunsflieks te sit.
Die storie gaan oor ‘n jong vrou wat haar werk verloor die dag wat sy uitvind sy’s swanger. Sy vind onverwags ‘n vriend in ‘n stil, bebaarde kollega, José. Saam ry hulle treine, ontmoet hulle mense, besoek hulle dele van die stad, en wonder hulle langs die pad hoe om sy verlede en haar toekoms te hanteer.
Die fliek bevat nie ‘n enkele suiwer antagonis nie: elke belangrike karakter, al gee hulle die ander grief, wys meer as een kant van hulself. Die storie gaan oor die lewe en dood van kinders en hoe hulle die volwassenes rondom hulle beïnvloed. Dit gaan oor die krag van gesinne om hulle kinders te seën of ‘n knou te gee, en hoe dit soms moeilik is om van buite af te sien watter impak iemand se gesin op hulle het. Dit gaan veral (maar on-soetsappig) oor die hoop wat ‘n kind afgee aan die mense rondom haar.
Back to real life. ‘n Skoolmaat is op pad om ‘n enkelma te word, het ek nou die dag sommer via facebook verneem. (Sy is die tweede van waarvan ek bewus is – die eerste se pragtige dogtertjie loer vir jou bo-aan hierdie blog en weer aan die einde.) Ek gun geen meisie of haar kind dit om sonder ‘n man die toekoms te moet aanpak nie. Maar ek kan nie help om die opwinding met hierdie nuwe swanger skoolmaat te deel nie. Ten spyte van alles begin ek verstaan hoekom sy nou heelhartig besluit het om hierdie kind se ma te word.
Ná die fliek het ek vir Dorette by die huis gaan aflaai en langs die hoërskool wou ek stop, in die ysige oop koue van die nag, om die groot verdwaalde labrador langs die pad op ‘n manier huis toe te help! Ek het geweet dis gekoppel aan die skoolmaats se moederskap en die Bella-kindfliek en my eie… nuwe ding. Soos ek al van tevore gesê het, is ek bietjie oorrompel oor hierdie nuwe begeerte.
Ek het skielik aan die begin van die jaar vir die eerste keer begin droom daarvan om my hart vir ‘n kind oop te maak. Om vir haar (of hom, o vrek, scary) ‘n tuiste te skep. Om saam met haar die wêreld te verken. Ek het myself nog altyd as ‘n kind gesien. Nou begin ek, onverwags, hoop ek sal eendag gereed wees om my hart te deel met ‘n nuwe kind, buite myself.
Ek is vir die eerste keer bewus daarvan dat dit regtig jou hele lewe verg. Nee. Ek het altyd geweet dit verg jou hele lewe. Dit het nie vir my na so ‘n great idee geklink nie, om daardie spesifieke rede! Maar nou kom ek agter ‘n kind is jou lewe werd, dalk meer as enigiets anders. Ek word eers die afgelope ses maande bewus daarvan dat dit dalk awesome kan wees.
Genoeg vir vanaand – ek’s vaak. Maar ek vermoed God krap-krap aan my hart soos aan daai irriterende sellofaan CD covers. Binnekort, as ek Hom toelaat, gaan hy ‘n deeglike grip kry en die beskermende plastiek afskeur totdat Hy met my, blootgestel, die kamer met musiek sal kan vul.



Ryan se laaste aand op Stellenbosch moes ons eenvoudig gaan dans. Ons het saam aandete gemaak en toe het die vriende begin aankom – Ernst en Ronel en later Mari en Renette en Louis en Jacques en Carlien en JP.As jy my ken, weet jy dis nogal ‘n mix. Dit was awesome so.
Ek en hy gesels byna daagliks via Urpu – iets soos MSN messenger vir die Stellenboschnetwerk. Sy status updates is dikwels nostalgiese lirieke – nog erger as myne! Want Ryan sê al vir ‘n rukkie hierdie semester het nou net insanely lank geraak. Daar het nou flippen genoeg goeters gebeur dat ons dit ‘n hoofstuk kan noem en ‘n bietjie kan asemhaal voor die volgende een.
Ons het altwee seergekry op maniere wat ons graag gespaar sou wou gewees het. Hy’t my oortuig mens mag drie dae na ‘n groot teleurstelling eenvoudig stort skip, slaap net wanneer jy wil, heeldag movies kyk en ooreet. En daarna sal jy so ongesond en gatvol voel dat jy ‘n meer normale lewe sal hervat uit pure frustrasie met jouself. Ek het hom opgevat op daardie een. ‘n Klomp flieks en sjokolade later, toe ek uit my toe kamertjie emerge, het ek actually beter gevoel. Sy rou grappies – soveel soos hulle sout in die wonde gevryf het – was snaaks omdat ons in die selfde bootjie was.
Ons is altwee deur baie oppe en affe. Ons het altwee troeteldiere gekry. Ons het gereeld mekaar oortuig om vir ‘n uurtjie of twee by die Neelsie sokkie in te loer. Selfs wanneer almal anders net dans, dink Ryan. Aan alles. Teorieë oor watter elemente Kurt Darren nodighet om ‘n hit te skryf was ‘n heerlike tema die afgelope tyd… ek dink hy is besig om ‘n Kurt Darren/Kaptein-parodie te skryf oor ‘n posbus :) Laat een Woensdagaand in Feruarie het hy kom eers na die sokkie kom water drink op die muurtjie voor my huis. Ons ore nog singend, ons lywe lam gedans en gelag, het hy wragtig nog kans gesien om ‘n paar skerpsinnighede kwyt te raak. Die straat was so stil.
Dis asof Ryan hom meng met my nostalgie. Op die AIFS toer in April, met Algoa FM wat al die Amerikanertjies irriteer, het ek iets opgetel van die “tuis”-gevoel wat die Oos-kaap hom gee en ek het besef iets van my sal ook agterbly tussen die vaal duine van Jeffreysbaai.
En daardie Sondagmiddag in Gordonsbaai, ure lank albei gefassineerd in die ou boekwinkel, het daar ‘n rustigheid oor my gekom. Al daardie paragraaflange post-kuier urpu-boodskappies het begin insink,veral die opregtheid waarmee hy geskryf het. Ek begin ons verhouding vertrou as iets waarop ek maar mag terugval as alles te rof raak.
Meer onlangs het ons een aand aan mekaar erken dat die sokkie nou lekker was, maar dat dit maar vir ons albei ‘n bietjie bittersoet is omdat ons verlang na ‘n verhouding wat ons nie in mekaar gaan vind nie. Ons sien van tyd tot tyd nog vir Mnr Seerkry en Mej Seerkry (om Girl van die Suburbs se idee ‘n bietjie aan te pas) en dan noem ons dit versigtig aan mekaar – in ‘n paar sinnetjies, met die vermyding van hulle name as ons kan. Ons altwee glo in ‘n onsigbare skeidslyn tussen platoniese vriende as dit kom by share oor hulle avonture met die teenoorgestelde geslag. Maar ons weet die ander een gee diep om.
En daar sit ons toe om die tafel by Opskop en ek vergaap my net aan die verskillende ouens en meisies wat miraculously presies ewe veel uitgewerk het. Ek en Ryan dans saam op liedjies wat ons eintlik aan ander mense herinner en analiseer laggend die lirieke sover soos ons gaan. Toe Kaptein opkom, is dit soos die sikliese einde tot die drama wat was die Eerste Semester. “It’s like the credits are rolling onto the screen right now.” Toe hy tuiskom, maak hy dit sy status message. Roll credits.
Hy is uiteindelik nou op vakansie. Hy’t vir my ‘n laaste paragraaf-boodskappie op Urpu gelos – opsommend, opreg, vol bewondering en seën. Ek het my woorde mooi gekies en teruggeskryf. En vroegoggend ná die Opskop-aand het hy op ‘n vliegtuig geklim.
See you again soon, Ryan Ryan.
*cara cara.
Posted in Life, the universe and everything
Tagged Gordonsbaai, liefde, Oos-kaap, sokkie, troeteldiere, vakansie
Early in the morning
When it’s dark outside
And the street is quiet
And our bed is warm
You rolled over slowly
Kissed me on the cheek
“Baby girl, it’s Sunday
Just go back to sleep.”
– Karen Zoid
Goeiemôre, mistige oggend. Met die wasem aan die binnekant van my venster kan ek die vetstrepies sien waar Roxy haar pote teen die glas gesit het en luilekker uitgestrek het terwyl sy my paai om die venster vir haar oop te maak. Bo die strepies, waar die wasem ophou, verrys die gekoekte verwarring van die seringboom se takke en blare. Dit word stadig lig.
Dis nou al regtig koud hier… Vroeg Meimaand. Die bome in Victoriastraat begin goud word, soos ek hulle onthou van my verliefde, verwarde, verwonderde eerstejaar. Waterdigte skoene en baadjies moet meer gereeld ingespan word en ek verlang na my gebreekte sambreel. Dis veel moeiliker om vroeg op te staan en kort te stort.
Ek gaan gou ‘n taak klaarmaak sodat ek met Ryan kan kuier vir die res van die dag. Ek soek ‘n paar koerantartikels op oor die vervanging van Manto Tshabalala-Msimang met Barbara Hogan. Die mistigheid op die venster raak minder, van bo af, en ek probeer die wetenskap daaragter onthou.

Iewers word jy ook wakker… maak dalk gereed vir kerk. Iewers op jou pa se plaas, of jou ma se huisie in die suburbs, skud jy die corn flakes uit die boks uit. Jou stiefboetie kom sit nog half bedremmeld van die slaap langs jou om die kombuistafel. Jy sit bruin suiker in jou koffie. Onthou vaagweg jy’t gedroom jy ontmoet jou vrou en tot jou skok was sy ‘n politieke wetenskapstudent. Ha. Drome kan so onrealisties wees.
“I’m astounded how much love I’ve poured on that thing in such a short space of time.” Dis ‘n onlangse opmerking van een van my beste vriende oor sy verhouding met sy nuwe troeteldier, ‘n rot genaamd Martin.
Ek en hy (my vriend, nie die rot nie!) is albei deur ‘n bietjie heartbreak aan die begin van die jaar en het albei hierdie jaar ons gemaklike koshuislewens verruil vir studentehuise.
Toe ek aan die begin van die jaar hier aankom, sit ‘n grys kat vir my en miaau. Ek het haar onthou van laasjaar; die ouens wat laasjaar hier gewoon het, het haar Slet gedoop. Hulle het haar probeer DBV toe vat, en die DBV het haar eerder gesteriliseer en vir die ouens teruggegee.
Ek het haar Roxy genoem, vir haar katkos gekoop uit my sakgeld en met die res van die huis onderhandel om haar te hou. Chandre het kom kuier en met haar gespeel. Bernard het kom kuier my met haar vergelyk. Ek het vir haar ‘n liedjie geskryf. Sy het by my voete begin slaap. Ek het haar begin troetelname noem.

En toe begin my vingers jeuk…
Kort voor lank het ek begin kruie aanhou op die vensterbank. Eers net takkies basil of wat ook al my ma gehad het, wat ons dan in kos gebruik het. Later het ek ‘n paar van my ma se plante uitgegrawe en in potte op die vensterbank gesit… waar hulle stelselmatig doodgegaan het. Ek weet nie of dit te veel water was, of te min, of te min son, of wat nie… maar die kruisement, aarbeie, seldery, basilikum, en so aan het maar net nie ge-flourish nie. Maar hulle was nog daar en ek het hard probeer om vir hulle te sorg.
Die pakkies saad in die winkels het my nog erger begin verlei as wat die skryfbehoefterak in my eerstejaar ooit kon en ek het ‘n pakkie wortelsaadjies, uiesaadjies en blommetjies gekoop wat almal belowe het hulle kan in die herfs geplant word.
Toe ek die aand voor die vakansie by Chandre gaan kuier en sy wys my haar awesome klein tuintjie, toe weet ek dis tyd. Sy’t vir my ‘n sak kompos present gegee en ek het Dorette se klein boetie oortuig om saam met my in die skemer te spit en al die plante uit te plant in ‘n klein hoekie van die agterplaas waar daar voorheen net die oorblyfsels van verdroogte gras was.
Tshepo het ingestem om die kat kos te gee en die plante water te gee elke oggend voor hy aan die werk spring met sy tesis. En toe gaan ek op vakansie teen die Ooskus.

‘n Maand gelede het ek saam met ‘n spul Amerikaners om ‘n kampvuur gesit en jam in die Sederberge.

Anne Meyers het die kitaar gevat en ‘n blues liedjie gespeel – eenvoudige lirieke; folk-agtige stem waarna mens maklik luister. Klomp Amerikaanse kontekstuele verwysings wat my laat dink het aan die fliek Almost Famous en aan die Wilde Weste ook, bietjie. Die liedjie het gegaan oor die skrywer se bitterheid oor ‘n lover wat haar verraai het en haar vasberadenheid om met attitude aan te gaan met haar lewe. Ek dog dis dalk Bob Dylan, of ‘n vroulike eweknie (ek weet nie hoe klink Janis Joplin nie, maar ek vermoed sy klink so iets).
Maar nee, dis Anne se eie liedjie. Dis regtig goed; hierdie meisie gaan ver gaan, veral met haar unassuming houding en haar terloops treffende looks.
“Did someone really do that to you?”
“Yes. It was about last year this time I think.”
Sy was bietjie verras dat ek so direk vra, maar nie skaam nie. Ek het gevra hoe dit voel om so seer te kry.
“It hurts SO fucking bad… but it’s so intense, you know you’re alive. You feel so alive.”

Sy het iets geëggo wat ek die afgelope paar maande ook besef het. Dis vir my ‘n heeltemal nuwe gedagte, en dit klink nie baie Christelik nie, maar daar’s ‘n aantrekkingskrag in seerkry wat nou vir my sin maak.
Ek het lank terug ‘n neiging in my ontdek om te indulge in seerkry. Om by die hokkieveld te gaan staan op ‘n winterdag en te weet hy was hier… hier het sy oë geflits agter die bal aan; hier het die son daardie blonde hare bietjie vir bietjie gebleik. Hier was hy onbewus van my en ek só bewus van hom.
En nou weer, hierdie afgelope paar maande met my hart in ‘n warboel soos nooit tevore nie, het ek gevind ek draai om liedjies soos Wagtyd van Stef Bos en Dreaming with a Broken Heart van John Mayer. Hoekom so graag die hartseer aanmoedig? Dis regtig nie lekker om so te voel nie. Luister lank genoeg die liedjies – of kyk die foto’s in my kop – en ek gaan deur my dag al soekend na ‘n kykie van hom. Ten spyte van wat nie gaan wees nie. Dit suck.
Selfs vandag, op soek na Mamma se verjaarsdagpotplant, het elke liedjie op MFM my hartseerder gemaak en tog was dit vir my regtig moeilik om na CD te switch, waar Paul Wright se happy mellow surfer lirieke vir my gewag het.
Maar dit het geleidelik vir my duideliker geword hoekom. Descartes het gesê I think, therefore I am. Ek kan nie twyfel of ek bestaan nie, want iets iewers dink iets hierdie woorde. Nou ja. Dalk stuur seerkry ‘n boodskap soos I feel, therefore I can love. Daar bestaan ‘n deel van my wat ek kan deel met iemand anders, iets intiem, want dit kry nou seer en dit kan nie seerkry as dit nie daar is nie.
Ek rou oor die leemtes in my wat nie gevul word nie. En hel, dit maak seer… maar ek kom oor en oor terug na hierdie pyn toe; ek verken dit. Op ‘n manier, nes Anne gesê het, is ek verstom in hierdie seisoen van my lewe want voel ek die lewendigste wat ek al ooit gevoel het. Dis ‘n bevestiging waarna ek verlang het: net ‘n groot hart kan sulke groot behoeftes hê.
Die alternatief? ‘n On-voelende bestaan. Om deur my dag te gaan met net my kop aan die dink. Net my voete op die teer en my oë in my daily planner for women. Dis die ultimate dood. En dit word so dikwels my default mode. Hel, dit maak sin dat ek dan eerder wil down wees.
Maar daar’s nog ‘n alternatief; die een wat ek nie geken het op skool nie. Die een wat ek nou eers begin verken. Ek lees Antjie Krog en sy skryf gedig op gedig oor haar en haar man. Ek kom by gedig nommer ses, en ek sien hoe soek sy nog nuwe woorde vir hom; vir hulle twee. En nommer tien. En nommer vyftien. Ek kyk na Maureen, die pastoor se vrou in Frankryk, en sy straal iets uit wat ek skaars ken. Diep, intens… so lewendig… én gelukkig.
So dalk maak seerkry ons gelukkig, of gee dit ons ten minste hoop. Want dan weet ons daar’s nog ‘n kapasiteit vir liefhê. Maar ons moenie seerkry en verlange en smart verwar vir wat ons eintlik soek nie. Dis ‘n rip-off van ‘n plaasvervanger. Want liefde kan – begin ek nou van voor af glo – ons harte so joyful maak dat ons weet ons harte bestaan. Net ‘n groot hart kan so vervul wees.
Twee maniere van lewe is flippen hartseer. Die een manier is as jy verslaaf raak aan seerkry, want jy’t (korrek) agtergekom dat dit jou diep raak, maar jy vind nie ‘n pad na liefde en vervulling nie. En die ander een is as jy settle vir die dooie bestaan van iemand wat dink hulle het nie ‘n hart nie.
Soos Anne se bitter blues dien die MFM sad songs dus ‘n doel. Maar ek’s bly ek het my CD aangesit vanmiddag. Ek het besluit daar’s iets vir my hart om verspot gelukkig oor te wees, al kry sy nou seer. Ek glo en vertrou ek gaan liefde vind. Paul Wright het gesing “give Him him your burdens and get you body on the dance floor”. En ek het.

“Alles wat ons was, is vanaand weer skielik hier
Verf dit met ‘n kwas of staar dit uit die vuur
maar onthou dit
maar onthou dit:
ons was hier”
Ek het ‘n obsessie met onthou. Ek het ‘n fobie vir vergeet.
In graad 7 het ek begin dagboek hou en my verskriklik bekommer daaroor as ek vir ‘n paar dae of ‘n week nie skryf nie. Dan het ek soms net ten minste die belangrikste aspekte van die dag neergeskryf. Om nou terug te kyk – eintlik oor my latere tienerdagboeke ook – is soms ‘n nodige reminder dat ek maar regtig onvolwasse was in ‘n tyd wat ek my verbeel het ek’s diep… die onderwerpe waar rondom die dagboek maal, is genoeg om dit te bewys!
Maar uit daardie boekies het hierdie Cara ontwikkel. Om bietjie meta te gaan – ek gaan (eintlik hopelik) eendag hierop ook terugkyk en besef ek’s weer myle ouer; ek het myle meer perspektief. Scary. Want hier sit ek en commit… ek blog vir julle, die publiek! Dagboekies kan ek wegsteek; kan ek quaint noem. Blogs are out there. Dis nogal stupid van my. (Maar gelukkig getuig my blog stats dat julle almal tot op hede gelyk by my huis sou kon kom kuier sonder dat die wyn opraak. Sommige van julle soek anyway net fotos van die Notre Dame of lirieke van Karen Zoid of die Melktertkommissie. Verstommend baie van julle wil iets van julle kinders se loopbaan of toekoms uitfigure en beland op een of ander manier by my blog.)
Buiten die dagboeke – oor my “gewone lewe” – het ek begin geestelike dagboekies hou rondom graad 8. Hulle is bietjie meer ontnugterend om op terug te kyk. Die vrese, die gebede, die feesvieringe daarin… veel meer van hierdie dagboekies eggo nog in vandag se gedagtes. En dit waaroor ek nie meer dink nie, het dikwels onbeantwoord maar net gestagneer. Dit is dalk hoekom ek soveel respek het vir Dorette en Nielen en, noudat ek hom beter verstaan, Bernard. Kyk, die Here gee mens vrede oor goed, maar ek dink soms pluk-pluk die Heilige Gees aan jou hart oor goed waaroor jy opgehou worry het. En soms dink ek ek’s ‘n armer mens wanneer ek nie aan daardie pluk-pluk gehoor gee nie. En hierdie vriende van my is ryker. (Hoe het dit gebeur dat hulle almal fotograwe is?)
Terselfdetyd het ek leers begin maak. (Skuus ek kan nie kappies maak op hierdie keyboard nie.) Een leer per jaar sedert 1999. Briewe, konsertprogrammetjies, soms ‘n merkwaardige eksamen-taalvraestel. Sertifikate. Teen matriek het ek twee leers per jaar nodig gehad. Vir 2005 tot 2009 kan ek tot my spyt net leers wys vir 2006 en 2008. En oor die ander jare worry ek… ek gaan alles vergeet!
‘n Bietjie later, seker rondom graad 10, het ook my skool huiswerk dagboeke in annale ontaard: “Musical. Dit was awesome!!! Jaco het kom kyk!” “Fluiteksamen. Te min geoefen… lucky sy’t nie C mineur gevra nie.” “Hokkieoefening in die hitte.” En digitale fotos het ‘n nuwe vorm van onthou bygevoeg sedert 2003.
Iewers in my kas, in aparte boksies, kruip daar liefdesbriewe ook weg. Net die belangrikes. Net die drie wat my ernstig in die oe gekyk het en laat besef het: meisie, jy het ‘n stukkie hart in jou hande. Ek lees hulle amper nooit. Dis net… te ongemaklik. Om die woorde te sien, werp dikwels my netjiese geskiedenis van my lewe omver. Dinge wat ek se groot was, is klein in die briewe. Dinge wat ek se klein was, is groot. My storie klop nie met die bewyse nie. Ek’s toe nie so connected en deursigtig en braaf soos ek dink nie.
Drie! Watter ordentlike meisie het die voorreg en die vermorsing van drie harte om te onthou?
Maar dis fine, want al hierdie onthoue kan jy op die rak bere; in boksies wegsteek; kan jy cite as bronne in jou lewenstorie sonder om hulle noodwendig te diep te inspekteer. Sonder om die troebel te sien; die vlak bakvissiestories; die verlanges na wat nie kon wees nie; die foute; die geleenthede wat verbygegaan het.
Wat ek begin agterkom, is dus dat ek desperaat wil onthou. Maar ek wil kies wanneer ek onthou.
En nou, noudat ek elke aand droom van iemand anders, hoe prop ek die spoke terug in die kas?
Dit was die 17e Desember 2008 en die eerste been van my rit huis toe het pas begin. Dit was ‘n bittersoet totsiens in Parys, waar Pieka sy vlug later die dag sou vang. Die einde van ‘n era, en ons het dit geweet.
Ek was teen hierdie tyd ‘n pro met die treine. My ipod het Tree63 gekies en ek het dit van random afgehaal sodat dit op Tree63 bly. “All of your days I’m walking home with you…”
Ek het my oe toegemaak en probeer tot rus kom, maar die trane was maar vlak. Hoe nader ons aan Duitsland gekom het, hoe kaler het die wereld geword. En hoe meer sneeu het God soos make-up op die yl landskap gesprinkel. Oorkant my het ‘n jong vrou gesit met die pragtigste twee donkerkop dogtertjies. Sy’t probeer om nie te wys dat sy kan sien hoe ek huil nie. Ek het ‘n prentjie in my dagboek geteken van die telefoonpale waar verby ons ry – swerms en swerms voels vir wie die Here so rg, selfs in hierdie ysige koue. Daai versie het my vir die eerste keer regtig getref.
Ek het gedink oor die maand wat verby is. Nadia-hulle in Belfort, dapper en opgewonde: die byna underground kerkgemeenskap. Maureen, die pastoor se vrou met die plooie en die vrede. Dit is maklik om saam met hulle te glo en te sien dat die Heilige Gees aan die beweeg is in Frankryk. En die Van Reenens – my en Irie se spring-spring deur die diepe sneeu; tannie Windred se ongeergde wysheid oor my wroeginge. En hy. Ek het my hart toegelaat om uit te freak in my.
‘n Spierwit koppie bo-op ‘n skaterende mensie. Sy was seker nie vier jaar oud nie en sy’t vol selfvertroue op en af gewaggel in die paadjie. Waggel-trippel tot teen die glasdeur en ek maak dit byna outomaties vir haar oop. Cara! Dis ‘n driejarige, en jy help haar weg-waggel van haar familie af, in die volgende treinkompartement in? Ek het maar opgestaan en haar terugbegelei in haar ouers se rigting. Sy’t my vertrou – sommer lag-lag.
Die ure het verbygegaan. Ek en die vrou oorkant my het in ons ewe gebroke Frans gesels oor haar twee dogtertjies, haar onlangse egskeiding, en haar toekoms vorentoe. En myne. Toemaar wat, het sy gese, jy’s nog jonk. Dit was duidelik dat sy glo haar romanse is vir ewig iets van die verlede, so beeldskoon soos sy is op dertig.
Net voor een van die Duitse stede het die blonde kind se gesin opgestaan en solank by die deur kom wag. Die blonde kind het maats gemaak met die donkerkopdogtertjies. Watter taal praat sy? het ek haar ma gevra. Eintlik drie tale, het haar ma verduidelik – Frans, Engels en Duits. So ‘n klein dogtertjie? Ja, regtig. Sy’t vertel hoedat hierdie bondeltjie winterjas selfs al met Duitse familievriende Duits begin praat en met Engelse familievriende weet om in Engels te gesels. En hoedat sy, by die aankoop van ‘n nuwe rokkie, daarop aangedring het dat dit nie ‘n Duitse jurk is nie maar ‘n Franse robe.
Dit was een te veel vir my. Nog ‘n Europa-kindjie. Wat is die kans dat sy ware lewe vind; ware vreugde beleef? Skattig. Godloos. Slim antwoorde op alles behalwe die doel van haar lewe. Ek het my gesig in my Philip Yancey boek weggesteek.
Net toe die trein stop, let haar ma skielik die boek op. “That’s a great book,” se sy. Ek’s verstom. “You know this book?” “Yes, it’s amazing, I read it a couple of years ago.”
Ek voel nou stupid hieroor, maar die volgende ding wat ek gese het, was “There are Christians left in Europe?”
Sy’t gelag, maar nie ongemaklik nie. Goedig. “Oh yes!”
Die blou ogies was besig om die donkerkoppies se speelgoed te verken. “… Then she’s in good hands.”
Haar ma het geglimlag. “Yes she is.”
En toe is hulle weg.
